Thursday, October 26, 2006

SILLY!

Al ooit gevoel jy is te skaam om met iemand sommer net te praat oor Jesus? Wel, ek ervaar daagliks daardie gevoel. Nie oor ek nie 'n ekstrovert is of skaam is om met mense te praat nie, maar dis die onderwerp!

Sien, dis moeilik om "Jesus-talk" te praat sonder om te klink soos 'n idioot of sommer net plein "silly" te voel daaroor. ( Ek bedoel...watter goeie herder sal al 99 sy skape los en gaan soek na die een wat weg is, en watter pa sal sy gehoorsame kind op die agtergrond skuif vir sy soute hel van 'n kind, watter tipe gasheer sal wag tot die einde om sy beste wyn op te tower vir sy gaste?...ek bedoel...dit klink net te silly om sommer oor te vertel!)

Die Engelse woordjie"silly" hou egter 'n baie mooier skat opgesluit in sy verlede. Sely wat beteken "eenvoudig"(simple) of "onskuldig"(innocent). Selfs uit die ou Engelse stam "saelig" spruit nog meer feesvreugde - " happy" of "blessed"!

Dus - as jy vandag soos ek voel dat dit "silly" is om oor Jesus te praat, dink weer, want inderwaarheid is ons die gelukkiges en die geseëndes!

DANKIE VRIENDIN!

Dae wissel in skakering, Dinsdag was blou...diep-blou, lig-blou , baba-blou, ...blou soos die see...blou my gedagtes ...wie sal verstaan! sing Laurika en ek nog harder saam.

Maar jy vriendin, het daar in die winkel sommer tot in my blou hart in gekyk en verstaan. Dankie vir die tissue wat jy aangebied het, maar ook nie gehad het nie...jy was darem my spieël wat die maskara strepe sou uitwys indien hulle onder my wangbene sit. Dankie dat jy aangebied het om my slegte paaie saam met my te stap, al het jy 'n afspraak gehad vir later, dankie dat ek vir 'n oomblik my muur saam met jou kon omskop en sommer net ons kon wees!

Vandag vier ek fees! Op jou!

Wednesday, October 18, 2006

NORMAAL...NOOIT!

Ek's normaal. Sekerlik die normaalste mens wat ek ken. Ek kyk na myself in die spieël en verstaan MY normaliteit, beoordeel ander se abnormaliteit volgens daardie normale mens wat terugstaar vir my in die spieël. Dis tog normaal, nie waar nie?

Eks besig om 'n boek te lees van die Amerikaanse teoloog, Leonard Sweet : "Jesus Drives Me Crazy!: Lose Your Mind, Find Your Soul" (Uitgewer: Zondervan Publishing Company) wat so treffend hierdie beeld in spiëel kom challenge! En kyk net hoe!

Jesus kom aarde toe - na alle normale mense, Hy die abnormale - die Een wat 'n " crazy wisdom " na die wêreld bring en daardeur ons lewens vir goed op sy kop kom draai - Ons roep om ABNORMAAL te wees in 'n normaal-gek wêreld! Jesus roep ons om nie soos hierdie normale wêreld te wees nie, maar abnormaal op te tree soos wat Hy dit vir ons bedoel het en 'n normale wêreld te roep tot vryheid! 'n Lewe waar ons "crazy in love" met God is, met die lewe is!

"When you truly grasp the freeing truth that we do not have to conform to this world, then you can become the crazy, zany, unpredictable, but powerful force for Jesus you were intended to be." dus ABNORMAAL!

Moeilik om te dink ons het 'n lisensie om abnormaal te kan wees! Nogal bevrydend en beslis iets om ons glasies op te lig!

Tuesday, October 10, 2006

BEBOS!


Dis 'n lang tyd sedert ek hier kom gesels het - nie omdat daar niks is om te vertel nie, maar sekerlik omdat die lewe net so wispulturig hier om my kom rond dans het in die laaste 2 weke!

Dis dan wat mens bietjie leeg voel as jy binnetoe kyk, en besef dat jy maar min aandag gegee het aan Hart, wat getrou nog hier binne maar aanhou klop en Longe, wat maar so deur die hoes en proes steeds getrou suurstof aan my sawwe lyf voorsien...en Siel wat nog altyd hunker na meer, maar nie ongeduldig wag op sy kos nie...LYF, O SWANGER LYF! Nog net 8 weke! Dan wag ons nuwe uitdagings!

Ek ( EN LYF) voel soos 'n bos...nie 'n bos soos in plantasie-bos nie, eerder die plant-tipe bos! Een wat wild groei, oor 'n muur moet groei, toe moet groei, reg moet groei, maar nou - deurmekaar bos! Geloof my blare wat skadu gee en die Here se liefde die lente blomme op my kroon. Groei is - soos nou vir my - soms deurmekaar, soms stadig, soms sluimerend, maar altyd daar...onsienlik vir die blote oog.

Snoei my Here, tot 'n hartsbos!