Thursday, September 14, 2006

DIT VAT GUTS

Liewe vriendinne, vriende en geesgenote!

Vanoggend het ek hierdie "kernkrag-pos" ontvang vanaf die e-Kerk. Wat my veral opgeval het is die gedeeltetjie oor getuig - het jy al vandag tyd afgestaan om vir iemand te vertel hoe die Here een van jou gebede verhoor het?

Wel - hier gaan ek!

Ek en Jaco het Maandagaand gebid dat die Here my sal gesond maak van hierdie griep wat nou al van die begin van die swangerskap net te gereeld sy kop uitsteek. Dit kos elke keer nuwe krag om positief te bly as mens se lyf seer gehoes is, jy sleg slaap en sommer net plein goor voel( en nie behandel kan word daarvoor nie!) Wel - vandag voel ek stukke beter! My bors sing nie meer nie en ek kan sommer die lente ook weer ruik! Ek weet die Here verhoor ook ons eenvoudigeste gebede - selfs net om bietjie beter te voel fisies!

Hoop julle het 'n heerlike opwindende dag!

Besoek gerus die e-kerk by www.ekerk.co.za! Dis 'n fees!


Dit kos guts om jou roetine te breek

Geordend, gestruktureerd, bepland – is dit woorde wat jou leefstyl beskryf? Leef jy binne ‘n veilige lewensritme waar alles en almal in plek is? Daar’s niks mee verkeerd nie. Die vraag is net wat doen jy as ‘n onverwagse krisis ‘n snelbal in jou rigting afstuur? Vang die verrassings van die lewe jou onkant? Of is dit geleenthede vir groei op God se pad?

Het jy die guts om vandag as ‘n skoon, nuwe bladsy te sien? Is jy oop en ontvanklik om deur die lewe verras te word? Of is alles so voorspelbaar dat jy selfs al jou eie “verrassings-partytjies” reël? Kan jy nog kinderlik opgewonde raak as jy God se hand raaksien in iemand wat ‘n bekertjie koue water met ‘n ander deel? Of in ‘n onverwagse glimlag, of ‘n vinnige geselsie? Kan jy jouself nog verras deur jou roetine te verander om by ‘n eensame te stop, of vir ‘n geliefde ‘n bos blomme te koop? Sal jy dit waag om ‘n kantoordeur toe te trek om vir ‘n kollega te vertel hoe die Here een van jou gebede verhoor het? Het jy die guts? Of ontwrig sulke stukkies lewe jou roetine te veel?
Vrede

Stephan

0 Comments:

Post a Comment

Subscribe to Post Comments [Atom]

<< Home