Wednesday, September 27, 2006

SERMONIEMEESTER(es)!

Liewe geesgenote,

Met kleine Madeleine wat sorgvuldig binne my groei, groei ook talle emosies, "worries" en what-if's" in my maag. Hoe gaan my lewe verander - sekerlik gaan sy by ONS aanpas!? Sy gaan 'n vreugde wees op alle terreine, veral slaap en eet en glimlag vir vreemde tannies in die Pick 'n Pay wat koer oor ons pragtige dogtertjie, ek gaan 'n wonderlike ma wees ( ...vertel ek oor en oor myself en weet ek lieg so bietjie...) my lyf gaan weer sy glorie van vroeër gou-gou terug kry ( verseker ek my geliefde!). Geboorte skenk kan tog nie soooo seer wees nie, geswelde borste is tog nie 'n probleem nie, is dit? Krampwater help vir verkoue ook, nê?!

Paniek!

My Bybel oor die volgende 12 maande na haar geboorte ( Hey Baby! The hip new mom's guide that's all about you" deur Sarah Bullen, uitgegee deur Oshun Publishers) herinner my sag dat dit eintelik wonderlik is om vrou te wees...en in my eie woorde "'n seremoniemeester" te word. En vriendinne...vriende, eggenoot, herinner my asb aan die wonder van ma-wees op dag 3 ( en 300!) nadat ek vir 72 uur nie geslaap het nie, seer is waar dit nog nooit so seer was nie, en hormonaal abnormaal is, dat 'n vrou se reis om haar eie potensiaal te ontdek eers begin die dag as sy ma word...en dat ons dit moet vier!

Bullen skryf in haar boek: " Baby showers, matric dances, 21st parties and weddings. In the long journeys of our lives, those are about the only benchmarks we actively mark and celebrate. And how do we do that? Most often with an open bar, store purchased gifts and lots of money. We have lost the simple art of ceremony, of celebrating the transitions in life, of honouring our own journeys as women through our culture and of creating rites of passages. Never is it more needed than when you become a mom. A rite of passage is a simple act you plan, with intent to usher a new energy, stage or idea into your life. "

" Increasing numbers of young women are looking for ceremonies and traditions to create meaning in their own lives and to mark the passage of their growth. They are creating their own ceremonies and starting, for their own families, a legacy of celebration of life that goes beyond Cardies prepackaged messages. Many women are borrowing ceremonies and traditions from religions, others from age-old practices long forgotten, and others are still creating their own"

Paniekerige feesvreugde
Donette

Tuesday, September 26, 2006

DIS JOU VERJAARSDAG!


Vandag verjaar die held in my lewe! Jaco! Die een wat my hart regom kom draai het en my kop reg kom aanskroef het. Die een wat elke dag my laat WIL huistoe gaan en my môre oggend weer laat opstaan. Die een saam met wie 'n leeftyd te min sal wees, die een wat my hart laat klop op 'n manier wat meer as lewe gee! Hy's die een met wie ek al my vrese deel, my vreugdes vier en my eie mislukkings by kan vergeet! Hy's die een wat nie moeilik is om te vergewe nie, die een wat die beste in my uitbring! Hy's myne - maar tog net 'n vlinder wat sag op my hand kom sit, wat ek weet nie altyd myne sal wees nie - Hy's die Here se man!

Verjaarsdae is belangrik - dit gee ons 'n geleentheid om vir die mense om ons uit te sonder en vir een hele dag per jaar die besonderse betekenis wat hulle aan ons lewens gee te vier saam met hulle! Dis 'n dag waarop ons nie net self neem nie, maar 100% gee aan die mense wat ons lewens verryk!

Mag elkeen van julle 'n besonderse dag hê! Veels geluk as dit ook jou verjaarsdag is vandag!

Ps 115:1:"Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer
toe, want dit is U wat liefde en trou bewys."

Thursday, September 14, 2006

DIT VAT GUTS

Liewe vriendinne, vriende en geesgenote!

Vanoggend het ek hierdie "kernkrag-pos" ontvang vanaf die e-Kerk. Wat my veral opgeval het is die gedeeltetjie oor getuig - het jy al vandag tyd afgestaan om vir iemand te vertel hoe die Here een van jou gebede verhoor het?

Wel - hier gaan ek!

Ek en Jaco het Maandagaand gebid dat die Here my sal gesond maak van hierdie griep wat nou al van die begin van die swangerskap net te gereeld sy kop uitsteek. Dit kos elke keer nuwe krag om positief te bly as mens se lyf seer gehoes is, jy sleg slaap en sommer net plein goor voel( en nie behandel kan word daarvoor nie!) Wel - vandag voel ek stukke beter! My bors sing nie meer nie en ek kan sommer die lente ook weer ruik! Ek weet die Here verhoor ook ons eenvoudigeste gebede - selfs net om bietjie beter te voel fisies!

Hoop julle het 'n heerlike opwindende dag!

Besoek gerus die e-kerk by www.ekerk.co.za! Dis 'n fees!


Dit kos guts om jou roetine te breek

Geordend, gestruktureerd, bepland – is dit woorde wat jou leefstyl beskryf? Leef jy binne ‘n veilige lewensritme waar alles en almal in plek is? Daar’s niks mee verkeerd nie. Die vraag is net wat doen jy as ‘n onverwagse krisis ‘n snelbal in jou rigting afstuur? Vang die verrassings van die lewe jou onkant? Of is dit geleenthede vir groei op God se pad?

Het jy die guts om vandag as ‘n skoon, nuwe bladsy te sien? Is jy oop en ontvanklik om deur die lewe verras te word? Of is alles so voorspelbaar dat jy selfs al jou eie “verrassings-partytjies” reël? Kan jy nog kinderlik opgewonde raak as jy God se hand raaksien in iemand wat ‘n bekertjie koue water met ‘n ander deel? Of in ‘n onverwagse glimlag, of ‘n vinnige geselsie? Kan jy jouself nog verras deur jou roetine te verander om by ‘n eensame te stop, of vir ‘n geliefde ‘n bos blomme te koop? Sal jy dit waag om ‘n kantoordeur toe te trek om vir ‘n kollega te vertel hoe die Here een van jou gebede verhoor het? Het jy die guts? Of ontwrig sulke stukkies lewe jou roetine te veel?
Vrede

Stephan

Monday, September 11, 2006

HOOGTEVREES!


Al ooit op die heel boonste binnevlak van die Voortrekkermomument gestaan? Die tralies voel te dun, die staal te swak en die hoogte net te veel!

Die senotaaf daaronder trek my oog aaklig af na wat ek glo verseker nou my dood gaan wees! HOOGTEVREES! probeer my brein dit rasionaliseer - nie so erg nie, maar my lyf sidder en my hart kan nie besluit of ophou klop nie maar miskien beter is as hierdie bonsspring wat hy nou beleef nie! Dis 'n droom, 'n slegte visioen, om my oë oop te maak, maak dit erger!

Koning Nebukadneser weet waarvan ek praat: Heidense koning van weleer:
"Ek, Nebukadnesar, het rustig en voorspoedig in my paleis gewoon,
maar toe het ek 'n droom gehad wat my ontstel het, visioene in my
slaap, wat deur my kop gemaal en my laat bang word het. ... (Daniël 4:4-5)

"HOOGTEVREES!" roep ek stom uit

Daniël 4: 15 "Nebukadnesar moet snags deur die dou natgemaak word en van plante leef saam met die wilde diere. Sy verstand moet anders word as die van 'n mens, hy moet die verstand
van 'n dier kry. Dit moet sewe tydperke lank oor hom kom."

En my stemmetjie binne my kom vertel vir my sagkens:

4:27. "Daarom, U Majesteit, luister na my raad: breek met u sonde en u ongeregtigheid, doen wat reg is en bewys barmhartigheid teenoor die wat in nood is. Dan sal u voorspoed aanhou."

NEE!

4:28. Maar alles het oor koning Nebukadnesar gekom. ...Hy is uit die menslike samelewing uitgestoot en moes gras eet soos beeste. Hy is snags deur die dou van die hemel natgemaak, en sy hare het so lank geword soos die vere van 'n arend en sy naels soos die van 'n voël.

My binneste vrot, en die kraaie wag dat ek ophou keer!

4:34. "Toe die vasgestelde tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, na die hemel opgekyk om hulp en het ek my verstand teruggekry. Ek het die Allerhoogste geprys, ek het Hom wat ewig leef, geloof en geëer. Aan sy heerskappy is daar geen einde nie, sy koninkryk bestaan oor al die
geslagte heen. "

HOOGTEVREES...sug ek verlig.Ek gryp die Handreling stewig vas. Ek kruip-loop stadig na die trappies.

4:2."Ek betuig met blydskap dat ek die tekens en wonders wat die allerhoogste God gedoen het, kon belewe. 3. "Hoe groot is sy tekens, hoe magtig sy wonders! Sy koninkryk is 'n
ewige koninkryk, sy heerskappy duur van geslag tot geslag.

Ek buig my neer voor u Here - in hoogtevrees! Ek betuig met blydskap hoe groot U is! Groter as my vrese, U dring my liefdevol tot HOOGTEVREES!

Lees meer oor die Voortrekker monument en die senotaaf by http://www.voortrekkermon.org.za/

Friday, September 01, 2006

LEWE!

1 September 2006!

Toe ek op 4 April vanjaar 'n tuis-swangerskapstoetsie gedoen het wat homself alte kordaat positief bewys het, het ek half in trane ( van paniek en vrees) na die ou witstinkhout voor my kantoor venster gestaar. Hy het pas begin verkleur...Voor hierdie babatjie kom moet hy nog al sy blare verloor, 'n seisoen-ewigheid kaal in die weer staan, weer blare kry en eers as hy weer sade het...dan eers is hierdie selletjie 'n mensie wat gereed is om haar ouers te ontmoet.

Die ou witstinkhout het seker so 2 weke terug sy lentebui kom aankondig en my herinner aan my gedagtes daardie herfsdag wat toe bietjie meer winterig daarna uitgesien het...maar nou verseker ruik die lewe na lente. Een van die dae kan ek slapies tel tot die groot dag.

My oupa is op 1 September 1996 oorlede, ook van daardie dag, onthou ek slegs die vars reuk in die lug en my ouma wat noem dat "Pa hierdie lekker dag darem ook baie (sou) geniet het". Ek glo dat Oupa daardie dag wel baie geniet het.

Liewe vriendin, vriend, geesgenoot...Vandag vier ek fees! OP DIE LENTE! Op nuwe lewe en die lewe hierna!