

Goeie dag Nehemia-Monya, Amos-Marie, Jona-Liesl ...sjo ek sien dis sommer al my vriendinne hier byeen vandag!
Ek bevind myself in uitgelese geselskap! En ek dink elkeen van julle is net so verbaas soos ek dat insluitende jou naam en my naam net sowel Nehemia of Amos kan wees! Of sal ek dit sterker stel - OOK MOET WEES!
My geliefde eggenoot het in die afgelope week met 'n absoluut fasinerende boek huis toe gekom - 'n boek wat net preke bevat met U2-songs se lirieke as tema -
Get Up Off Your Knees: Preaching the U2 Catalog Editor: Beth Maynard; Raewynne J. Whiteley. Ja, regte-egte preke soos wat ek en jy Sondag na Sondag in die kerk hoor! Vars bries vir baie van ons wat in die susterskerke groot geword het!
Maar voor ek by U2 kom - eers bietjie oor die profete van toentertyd!
Maak jou oë toe en sien voor jou geestesoog vir Nehemia. Wat sien jy? 'n Gryskop man, effens oorgebuk of jonk met baie energie, vlenter klere of deftig aangetrek, straat prediker of formele predikant? Sprankel in die oog of bietjie terneergedruk? Oopkop of sommer 'n ou moeilike man?
Wat ook al jou prentjie - doen gerus die moeite om die boek Nehemia vir 'n slag te lees!Maak pret van die lees: Lees die geslagsregisters en werkers se name hardop saam met jou man/vriend! - Ek en Jaco het een aand so histeries begin lag dat ons nie meer kon lees nie - nie eens praat van bid na die tyd nie!)
Kom ontmoet 'n man wat in die fleur van sy lewe is - 'n hoë amptenaar ( die SKINKER!) aan die hof van Koning Artasasta - 'n geliefde man by die koningin( hfst 1 vs 6 impliseer die feit dat sy by was toe Nehemia kom vra het om Jerusalem te gaan herbou, reeds die Koning sag gemaak het) maar so ook by die koning self. Ontmoet 'n man wat deur gebed sy HERE ken! Ontmoet 'n man wat ken van skietgebede! Ontmoet 'n man wat hartstogtelik hartseer word oor sy eie mense se sonde en pyn...en daaroor kan sing! Ontmoet 'n man wat vir almal 'n pyn in die gat moes wees so passievol was hy oor die wet! Ontmoet 'n man waarby ons vandag nog kan leer ....hoe om dit te doen en nie te doen nie!
Maar nou om by die profeet storie uit te kom: wat het profete nou eintlik gedoen? Hulle was mense wat in metafore met mense van HULLE TYD gepraat het. Dink maar aan Jeremia wat na die pottebakker se huis moes gaan en tot vandag toe vir ons 'n ander betekenis gegee het van "klei in die Pottebakker se hand" (Jer 18). Profete is mense wat woorde buite die woordeboek plaas - dinge so stel dat mens dit nie meer in die HAT kan opsoek nie! En sulke woorde trek mense in! Boei hulle! Laat hulle verder dink as die boks! Met die vraag los...wat is buite die boks?
Terug by U2 en die boek
" Get off your knees". Whitely noem in sy voorwoord dat 'n band soos U2 niks anders is as profete vir vandag nie. Vergeet van die individue van die band en elkeen se sondes waarvoor ons hulle so graag wil kruisig ( kyk maar wat het ons met Jesus self gedoen!) en luister vir 'n oomblik na die woorde wat hulle uitbasuin! U2 trek ons in sy metafore in en praat skaamteloos oor VIGS, oorloë, aardverwarming en hongersnood. U2 trek ons selfs in met hulle blote naam "U2"!
My naam is nie Bono-Donette nie, maar Donette op haar eie kan wel ook tog sekerlik vandag in iemand se lewe die rol van profeet speel! Skaamteloos mense buite die boks plaas - om Christus raak te sien!
Dus Jeremia-Karien en Jesaja-Louise! Kom klink vandag 'n glasie saam met my op PROFETE! Op my en jou! Vier Fees!